Die Beeld-Kinderfonds bestaan reeds vanaf 1977. Dit is 'n geregistreerde nie-winsgewende liefdadig-heidsorganisasie, wat fondse insamel vir minderbevoorregte, sorgbehoewende en gestremde kinders - of te wel kinders in nood. Beeld-Kinderfonds is ontvanklik vir die behoeftes van hierdie kinders in Beeld se verspreidingsgebied.
Ons lewer 'n onontbeerlike diens aan die gemeenskap en ons bydrae tot vele van die projekte waarby ons betrokke is, is onontbeerlik vir die voortbestaan daarvan.
Ons MISSIE is die insameling van geld om sorgbehoewende kinders op die terreine van noodleniging, onderwys-en opleiding en lewensverryking te help.
Beeld-Kinderfonds word beheer deur 'n raad van trustees en word jaarliks geouditeer deur Pricewaterhouse Coopers. Ons is oop vir kinders van alle rasse.
Die maatskaplike nood in ons land het die afgelope paar jaar baie toegeneem en ongelukkig is dit so dat kinders altyd aan die kortste end trek. Beeld-Kinderfonds se doel is om hulp te bied aan welsynsorganisasies wat na die behoeftes van dié kinders omsien en is ook betrokke by gemeenskapsprojekte wat dieselfde doel het.
Die geld wat Beeld-Kinderfonds insamel, kom direk by die kind uit en minder as 8% van die geld wat elke jaar ingesamel word, word vir administratiewe kostes gebruik. Ons poog ook om administratiewe kostes so laag as moontlik te hou.
WAT BEHELS die BEELD-KINDERFONDS?
Beeld-Kinderfonds is by die volgende projekte betrokke:
Die versorging van kinders in kinderhuise, soos die Abraham Kriel Kinderhuise, asook die Hervormde Kerk se pleegsorghuise.
Die versorging van "weggooi" babas, sommige ook met VIGS;
Rehabilitasie- en ontwikkelingsprojekte vir straatkinders: Om hierdie kinders van die strate af te hou, is die aanleer van vaardighede 'n uiterste noodsaaklikheid, sodat hierdie kinders selfonderhoudend kan word en waarde tot die gemeenskap kan toevoeg. Hierdie projek word baie suksesvol aangebied in die Johannesburgse Middestad;
Speelgroepe vir voorskoolse kinders en naskoolsorg vir skoolgaande kinders, wat andersins bedags alleen tuis gelaat word. Gebalanseerde etes word ook voorsien.
Skoolgereedheidsprogramme en voedingskemas in verskeie sentra vir milieu gestremde, arm voorskoolse kinders. Kleuters wat nie die nodige kennis en vaardighede voorskools verkry nie, vorder dikwels nie op skool nie en verkry 'n negatiewe selfbeeld wat negatiewe gevolge vir hulle inhou. Die skoolgereedheids-programme help dat hierdie kinders nie met 'n agterstand hul skoolloopbaan begin nie.
Kampe vir minderbevoorregte kinders wat nog nooit die geleentheid gehad het om uit hul omgewing te kom nie, met die oog op lewensverryking;
Jeug- en Kinderprojekte onder leiding van die Verenigende Gereformeerde Kerk: Dit bestaan uit kampe en uitstappies. Die omstandighede waarin die kinders leef wat op hierdie geleenthede geneem word, is uiters armoedig. Beeld-Kinderfonds maak uitstappies en kampe moontlik, waartydens godsdienstige waardes en lewensvaardig-hede oorgedra word. Dit is werkskampe waartydens die kinders geestelik opgebou en versterk word en die enigste geleenthede waar die meeste van hulle 'n gebalanseerde bord kos, drie keer per dag kry en kans kry om net kind te wees.
Terapeutiese toerusting en dienste vir getraumatiseerde kinders: Spesiale toerusting en kennis is nodig om kinders wat aan erge trauma, soos verkragting, seksuele misbruik en erge mishandeling, blootgestel is, te behandel. Hierdie spesialis dienste is baie duur, maar baie noodsaaklik om hierdie kinders weer "heel" te maak.
Jeugverrykingsprogramme vir tieners in gemeenskappe wat gekenmerk word deur armoede en/of misdaad en geweld in die Vaaldreikhoek. Die doel hiermee is om hierdie kinders konstruktief besig te hou en vir hulle positiewe vryetydsbesteding aan te bied, sodat hulle uit die strate en uit die moeilikheid kan bly. Die kinders word vaardighede aangeleer en blootgestel aan stokperdjie beoefening met die oog op latere entrepreneurskap en selfonderhouding.
Verskeie ontwikkelingsprojekte vir kinders met gestremdhede. Hiermee word gepoog om meer sin aan die gestremde se lewe te gee. Geld word ook gegee vir die aankoop en instandhouding van gespresialieseerde toerusting om gestremde kinders te stimuleer en beter lewenskwaliteit te gee.
Hulp aan plaasskole - vir kinders van arm plaaswerkers, wat andersins nie toegang tot
onderrig het nie, weens die ver afstande na dorpe en die gebrek aan vervoer. Meeste van
hierdie skole kry ook bittermin of geen staatshulp nie.
Hulp aan instansies (soos veiligheidshuise en kinderhuise), wat kinders versorg in opdrag van die Kinderhof, wat van hul ouers verwyder is weens verwaarlosing, mishandeling, seksuele molestering, en ander maatskaplike probleme by hul ouerhuise.
Voedingskemas wat daagliks etes aan kinders by skole verskaf, die meeste van die kinders wat by hierdie skemas gevoed word, kry dikwels geen kos tuis nie of baie min, weens armoede.
• Studiebeurse aan belowende, minderbevoorregte studente vir naskoolse studies.
Die Beeld-Kinderfonds word elke jaar gekonfronteer met kinders wat in die uiterste nood verkeer en die voorvalle word al hoe meer. Ons teiken is om meer as R 4 miljoen in te samel, maar ons het baie meer nodig om die kinders, soos hierbo beskryf, te kan help. Op 'n jaarlikse grondslag baat meer as 10 000 kinders direk of indirek by die Beeld-Kinderfonds.
Vir enige verdere inligting kan u met my skakel, of kyk op ons webblad: www.beeldkinderfonds.co.za |
Should you wish to make a cash donation towards nappies, we will purchase it on your behalf. |
|